Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
skree sy in ’n stem so hard en skril dat dit haar eie ore seermaak. Sy storm vorentoe, maar voordat sy by hom kniel, weet sy reeds dis te laat om iets te doen. Hy is dood.
Sy val op haar knieë in die rooi stof en druk haar kop teen syne wat nog warm is. Sy huil soos sy in jare nie gehuil het nie. Die hond se goue pels word nat van haar trane terwyl Magiel, die trekkerbestuurder, langs haar staan en verskonings mompel. Die hond was te vinnig, hy kon niks doen nie. Sy hoor hom nie, sy huil te hard.
“Plato,” sê sy oor en oor. “Nee, kom terug!”
Sy hoor die bakkie stilhou, maar sy bly net daar sit, vooroor gebuig in die stof, die hond se lewelose kop in haar arms.
“Julia,” sê André, en hy kniel langs haar. “Wat het gebeur?”
“Ek het hom geroep,” huil sy. “Hy’t uit die waenhuis gestorm en reg onder die trekker ingehardloop. Dis my skuld. Ek moes hom nie geroep het nie.”
Hy vat haar aan die skouer. “Kom, daar is niks wat ons kan doen nie. Ek is so jammer.”
Sy laat haar teruglei na die huis. Hy laat haar in die stoepkamer sit en vra Mieta om vir hulle tee te maak. Sy bly inmekaargekrimp op die rottangstoel sit, haar arms oorkruis oor haar bors gevou terwyl die trane onophoudelik oor haar wange stroom.
“Hy’s al wat ek gehad het,” sê sy. “Hy was die enigste ding wat myne was.”
Hy sê niks nie, skink net die tee in toe dit kom en dwing haar om die soet, warm vloeistof te drink.
“Hy was nie die werf gewoond nie,” sê hy naderhand. Sy hart is seer toe hy na haar geboë kop kyk. Die fluweelband wat sy altyd dra om haar hare uit haar gesig te hou, het afgeval; die syerige, donker hare val soos ’n gordyn oor haar gesig. Hy is verbaas dat sy met haar sardoniese uitkyk op die lewe so gebroke kan huil, en hy voel hulpeloos omdat hy nie weet hoe om haar te troos nie.
“Hou op huil,” pleit hy na ’n ruk. “Jy gaan jouself siek maak.”
Haar skouers verstyf, sy soek in haar sak rond vir ’n sakdoek en vee haar oë af. Toe sy opkyk, is haar grys oë nat en geswel en sy byt haar lip vas, maar sy is weer kalm.
“Ek huil nie gewoonlik nie,” sê sy styf en skink vir haar nog tee in.
“Ek is regtig baie jammer,” sê hy. “Ek weet wat hy vir jou beteken het. Ons sal hom begrawe.”
“Dankie,” sê sy formeel en ontwyk sy oë.
Die volgende paar dae sien hy haar omtrent nie. Mieta vertel hom dat sy vir haar kos inpak en na die berg stap. Soms wanneer hy in die bakkie rondry, sien hy ’n spikkel kleur hoog teen een van die hellings en raak hy net meer bekommerd. Sy ken nie die berg nie; daar is kranse en skeure waarvan sy nie bewus is nie. Toe sy nog ’n hond by haar gehad het, was hy minder bekommerd oor haar, maar nou het hy ’n goeie rede. Soos ’n antwoord uit die hemel kry hy ’n oproep van ’n vriend by wie hy ses maande gelede al ’n skaaphond bestel het. Sy vriend vertel hom dat die werpsel oud genoeg is en dat sy voorman André se hondjie sal bring wanneer hy dorp toe gaan.
Toe die hondjie afgelewer word, is Julia nie daar nie. Omdat André haar kort na middagete hoog teen die berg sien loop het, sluit hy die hondjie in die buitekamer toe en loop agter Julia aan.
Dis ’n warm dag, maar in die bergklowe is dit koel en hy probeer in die skadu klim. Kort-kort roep hy na haar, maar as sy hom hoor, antwoord sy nie. Hy weet sy klim dikwels in die rigting van die rooi kranse, ’n formasie ongewone klip van waar ’n mens ’n wonderlike uitsig na alle kante het. Toe hy uitasem om een van die fortagtige punte klim, sien hy haar sit, haar knieë opgetrek en haar ken op haar hand. Haar oë staar in die verte en sy ruk soos sy skrik toe sy hom sien.
“Hier is jy,” sê hy onnodig en gaan sit ’n ent van haar af.
“Wat maak jy hier?” vra sy toonloos. “Het jy nie werk nie?”
“Ek het jou kom soek.”
“Hoekom?”
“Ek het iets wat ek vir jou wil wys.”
Sy beweeg haar kop en klem haar hande stywer om haar opgetrekte knieë. “Ek hou daarvan om hier te sit.”
“Ek weet.” Hy het nou sy asem terug na die vinnige klim en staan op. “Toe ek jonger was, was dit my geliefkoosde plek.” Hy wys na die uitsteeksels. “Kan jy sien dat dit na ’n fort lyk? Ek het wonderlike dae hier beleef, so alleen allerhande speletjies gespeel.”
Sy draai haar kop en kyk vinnig na hom. “Watse soort speletjies?”
Hy lyk verleë. “Ag, alles. Dit was my koninkryk en ek was die dapper ridder wat die drake van my vesting af weggehou het.”
Sy draai weer haar kop vorentoe en staar oor die vreedsame panorama van valleie en landerye tot by ’n horison wat bewe in die hitte.
“Ek huil nooit nie,” sê sy skielik.
“Dan is dit miskien goed dat jy dit nou gedoen het.”
Sy kyk hom wantrouig aan. “Hoe weet jy dit?”
Hy krap met ’n stokkie tussen die los klippies rond. “Omdat ek nooit huil nie.”
“Net omdat jy ’n man is?” vra sy, iets smalends in haar stem.
“Nee, omdat ek nie kan nie. Nie eers toe ek ’n kind was nie.”
Sy sit lank na hom en kyk, al is sy gesig weggedraai en dra hy soos gewoonlik sy sonbril.
“Is dit wat jy vir my probeer sê? Dat ek my sit en doodhuil oor ’n hond, en jy wat veel meer as ek verloor het, huil glad nie?”
Haar woorde kwets hom; sy kan sien hoe hy letterlik wegruk van haar. Sy voel so sleg dat sy vinnig oorleun en haar hand op sy arm sit.
“Ek is jammer. André, ek is jammer. Ek is ’n heks. Vergewe my.” Sy voel sy armspier soos staal onder haar hand. “Ek moet ophou hiermee,” sê sy bedruk. “Ek het geen reg om my seerkry op ander mense uit te haal nie.”
Hy kyk na haar en glimlag effens. “Dit maak nie saak nie. Ek is taai.”
Sy staan op, stof haar langbroek af en tel die strooihoed met sy blou en geel blomme op. “Wat wil jy sê – dat jou skouers breed genoeg is om my sweepslae te weerstaan?”
Hy staan ook op en hulle begin afklim.
“Ja,” sê hy. “Ek breek nie maklik nie.” Hy hou sy hand uit om haar te help. Alhoewel sy eers geaffronteer wil voel, moet sy erken dis gerusstellend om sy hand stewig vas te hou terwyl hulle teen die klipperige helling gly en struikel.
“Dis jou trouhoed,” merk hy op toe hulle op gelyker grond begin stap.
“Ek weet, maar ek het Sandra belowe ek sal my nie langer verrinneweer nie.”
“Het jy dit altyd gedoen?”
“My voorkoms was nie ’n prioriteit nie,” sê sy styf. “Ek sit my nie en mooimaak vir iemand anders nie.”
“En nou?” vra hy. “Waarom doen jy dit nou?”
Die vraag betrap haar onkant. Verbouereerd soek sy na ’n koel antwoord. “Ek sê mos ek het Sandra belowe. Ek hoef nie hierdie jaar daagliks in die grond rond te krap nie. Buitendien is die son hier veel skerper.”
“Ek sien.” Hy maak vir haar die eerste hek oop. “Jy moenie sommer enige rigting inslaan op die berg nie. Daar is plekke wat gevaarlik is.”
“Ek weet,” sê sy. “Ek sit altyd daar waar jy my gekry het. Van daar kan ek die hele wêreld sien. Ek hoef net ’n halfuur daar te sit, dan is my kop heeltemal leeg.”
“Wil jy jou kop leeg hê?”
“Ja,” sê sy kortaf.
Hulle kom by die volgende hek en hy sukkel om dit oop te kry. “Party van hierdie hekke moet vervang word,” merk hy op.
“Ek