‘n Enkele verhaal. Deon Wiggett

‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett


Скачать книгу
die vyftiende verdieping van die Naspers-gebou is Adriaan nou hoofredakteur van News24. Ek het iemand nodig om my te help – iemand met geld. As ek probeer om Willem te ontmasker, sal hy ’n aansienlike hoeveelheid geld aan ’n groot regspan betaal om my te dagvaar en te verneder terwyl regskoste die res van my lewe opvreet. Ek het iemand met prokureurs nodig.

      Adriaan is nie wie ek wou gehad het nie. Ek het in 2018 al begin rondvra. Een oggend oor ’n hotelontbyt met Max du Preez vra hy my: “Het jy al met Adriaan hieroor gepraat?”

      “Ek wil dit nie saam met Adriaan doen nie,” antwoord ek. “Ek kan dit nie saam met ’n Nasperstitel doen nie; it goes against everything this project is about.”

      “Jy moet met Adriaan praat,” sê Max weer. “Of dalk met Pieter du Toit en Mandy Wiener.”

      “Hulle werk álmal by News24.”

      “Praat met Adriaan,” sê hy. “He’ll get it.”

      Vir lank ignoreer ek sy advies, al was dit opwindend om Max du Preez te ontmoet.

      “So wat is jou plan presies?” vra Adriaan terwyl ons wag vir ons pizzas.

      “Obviously wil ek vir Breytenbach nail, maar ek wil dit doen op ’n baie openbare manier sodat dit iets kan betéken. Ek wil ’n Serial-tipe podcast maak oor die proses, want daar’s ál hierdie seuns wat die heeltyd verkrag word en ál hierdie joernaliste weet en niemand doen iets daaromtrent nie.

      “Ook, ek wil régtig graag ’n Serial maak. My naam is Deon Wiggett, en ek is Sarah Koenig.”

      Adriaan snap dit. Hy is gaande daaroor. “Kom ons nail die doos,” sê hy, want hy glo my. “Ons kan die regskoste betaal, maar dit moet waterdig wees. Deeply lawyered, signed affidavits, die works.”

      “Ek sal die prokureurs gaan ontmoet,” sê ek, en in Johannesburg se boomryke Westcliff begin die land se voorste mediaprokureur reeds vir Adriaan geld kos.

      Dan vra ek vir Adriaan: “Kan julle help betaal vir die produksiekoste?”

      “Wel, as ons vir iets betaal, is dit ons s’n.”

      “Dit gaan nooit gebeur nie. Dis podcast is entirely myne, en jy verstaan hoekom dit moet wees.”

      “So, hier’s die vraag wat ek gevra gaan word,” sê Adriaan: “Wat is in dit vir ons?”

      “Redemption?”

      Ons lag albei hard en bitter.

      En so kom ons uit, soos ons moes, by ’n rampspoed genaamd Naspers. Die maatskappy is berug vir soveel meer as om Willem Breytenbach ’n grootkop te maak. Lank voor sy eietydse sonde is die Nasionale Pers geskep om apartheid te slyp.

      Dit is Desember 1914. In die Europese winter veg troepe van die Unie van Suid-Afrika sy aan sy met ander onderdane van koning George V. Maar ver weg, op Stellenbosch, is dit somer en rustig toe sestien Afrikanermans ’n monumentale besluit neem. Die tyd het gekom vir Afrikaans om sy eie, egte stem te vind, en dus weet hulle wat hulle te doen staan. Hulle sal ’n Nederlandse koerant begin.

      Sewe maande later word De Burger vir die eerste keer in Kaapstad gepubliseer; dit sal ses jaar later Die Burger word toe, neem ’n mens maar aan, die kloutjie by die oor gebring is. Die eerste redakteur was doktor DF Malan, wat later jare as eerste minister apartheid sou instel.

      Een ding lei tot ’n volgende. Dit behaag Die Burger se uitgewer, en Nasionale Pers – of bloot, met ontsag, “die Pers” – bring ander koerante en tydskrifte op die been. Almal basuin geesdriftig vir die Nasionale Party.

      Die Nasionale Pers het intussen kortweg Naspers geword, en deesdae probeer die maatskappy sy tagtig magtige apartheidsjare stilhou, toe dit meer as net voorletters met die Nasionale Party gedeel het. ’n Grappie uit apartheid se laaste dekade is ’n duisend woorde werd. Aartsbiskop Desmond Tutu en president PW Botha is in ’n skuitjie in Tafelbaai om oor ’n skietstilstand te gesels. Uit die niet verskyn ’n fratsgolf en vee vir PW uit die boot en onder die golwe in.

      Sonder om te aarsel klim Tutu uit die skuit, loop op water, tel vir PW op en lê hom veilig in die skuit neer.

      Die volgende dag is die Cape Times se hoofopskrif: “Tutu walks on water!”

      Die Burger het: “Tutu kan nie swem nie”.

      Maar helaas vir Naspers raak apartheid ná tagtig jaar vir almal te veel. In die 1990’s bevind die Pers hom op die rant van irrelevansie. M-Net, wat vir die gelag betaal, is ’n onsekere en onmededingende seëning (deur die NP besorg). As die Pers gaan seëvier, gaan dit ’n wonderwerk verg.

      Dit kry eerder ’n wonderwaagskoot, en dus werk dinge selfs nog beter uit. In die gejaag om iets met sy apartheidswinste aan te skaf, koop Naspers en sy “visioenêre” leier, Koos Bekker, ’n verskeidenheid hopelose start-ups. Een van hulle, Tencent, verander homself in ’n reus; al wat Bekker en Naspers moes doen, is om vir die applous op te daag. Sakevernuf raak nie meer passief as dié nie.

      In 2017 maak Naspers ’n beleggersvideo met die hersiene geskiedenis, nou slegs in Engels vertel, en hier vertaal:

      “Ons reis het meer as ’n honderd jaar gelede met ’n koerant in Suid-Afrika begin,” sê ’n man. “Mettertyd het ons gebou, gekoop en belê in vername tegnologie-platformbesighede …”

      ’n Vrou swiep binne vir ’n gevoel van inklusiwiteit: “… en vandag is ons ’n wêreldwye internet- en vermaakgroep en een van die grootste tegnologiebeleggers in die wêreld. Dit … is Naspers, ’n groep wat mense bemagtig en gemeenskappe verryk.”

      Die twee gesels voort – hy oor die 25 000 werknemers, sy oor die bedrywighede “in 120 lande reg oor Afrika, die Amerikas, Asië, Oos- en Sentraal-Europa én die Midde-Ooste”.

      Nog ’n paar logo’s flits verby, en dan ’n lawwe stelling: “Om ons te help om die volgende groeifase te stuur, identifiseer Naspers Ventures geleenthede om vennootskappe te vorm met internetondernemings in opwindende nuwe gebiede met ’n hoë potensiaal en help hulle om ’n globale skaal te bereik.”

      Hy sê: “Een van ons waardevolste beleggings is Tencent, wat op die Hongkongse aandelebeurs genoteer is en deur ’n puik span bestuur word. Dit is een van die grootste internetmaatskappye ter wêreld en ’n vooraanstaande verskaffer van waardetoevoeging tot internetdienste.”

      Dan nóg logo’s, nóg geesdriftige uitsprake (“een van die grootste internetmaatskappye in Rusland!”), tot die film die skaamfamilie bereik.

      Sy: “En dan is daar Media24, Suid-Afrika se vooraanstaande uitgewer, en Novus, ’n markleier in die kommersiële drukkersbedryf. Media24 publiseer ’n wye verskeidenheid tydskrifte, koerante en boeke. En om die toekoms te omhels, ontwikkel hy nuwe digitale dienste soos die [nou hernoemde] Spree en Careers24.”

      Terwyl die musiek crescendo vir die groot einde, sê die vrou: “Dít is ons groep …”, al is dit teen dié tyd duidelik.

      Indien u, soos ek, die bostaande geskiedkunde ietwat gepoets vind, mag ek u dalk interesseer in my puntenerige herskrywing daarvan. Soos mý beleggersvideo begin, sê die man: “Ons reis begin meer as ’n honderd jaar gelede, toe apartheid nog ’n fantasie was en Afrikaner-nasionaliste ’n werklikheid daarvan moes maak. En so het ons vir tagtig jaar belê in besighede wat apartheid bevorder. Dit is geen verrassing dat die Nasionale Pers en die Nasionale Party dieselfde voorletters het nie, want tot in die middel-1990’s wás hulle dieselfde.”

      Sy: “Vandag is ons grootliks staande te danke aan ons korrekte belegging in Tencent in ons soeke na relevansie ná die val van apartheid. Dit is Naspers, ’n groep wat magtige mense bemagtig en die rykstes verder verryk.”

      Hy: “Amper een uit elke een mens in China gebruik WeChat en ander Tencent-produkte om hul lewens te reguleer, en dis vir die Naspersmaatskappye ’n hartsaak om pasklaar ervarings aan regerings te bied …”

      Sy: “… met bedrywighede in Rusland, Latyns-Amerika, Afrika, Oos- en Sentraal-Europa, die Midde-Ooste, Indië


Скачать книгу