DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts


Скачать книгу
beginsels … na my insig, moet geregtigheid en waarheid najaag en in die Naam van God verdedig, en derhalwe alle onreg en misdaad en sonde in vriend of vyand, hetsy in ’n enkele individu of in ’n ganse volk, ontbloot en veroordeel. En waar ’n mens die godsdiens by die hare insleep om politieke wins te help verkry, daar offer mens ewige belange vir die tydelike op, daar verneder mens die godsdiens.[79]

      In die nasleep van die Anglo-Boereoorlog, toe Afrikaners met die hulp van grondwetlike middele na die herwinning van hul politieke mag begin streef het, het Malan met die aard van daardie strewe geworstel. In daardie stadium het slegs die Kaapse Afrikaners stemreg gehad – die eerste verkiesings in Transvaal en die Vrystaat het eers in 1907 plaasgevind. Die Kaapse politieke tradisie van verdraagsaamheid en tegemoetkomendheid was dus skynbaar die enigste middel om mag te kry.

      Malan het dit moeilik gevind om dié stand van sake te vereenselwig met sy nuwe opvattings oor ononderhandelbare beginsels en die voorrang van ewige belange bo die tydelike. Hy kon nie anders as om die Kaapse politiek te veroordeel nie, selfs al was dit al weg tot politieke mag. Dit het nie meer oor die blote verkryging van politieke mag gegaan nie. Die wyse waarop daardie mag bekom word, was nou belangriker:

      Dat ons weer politieke mag in die hande sal kry, is nie volstrek onmoontlik nie, maar dan moet dit gebeur langs die weg wat deur die Kaapse politiek aangewys word – deur toegewings op nasionale gebied, deur die bestaan van ’n Afrikaner-volk met sy eie geskiedenis, nasionaliteit, taal en sedes dood te swyg; en indien die weg gevolg word – gegewe ons volk se bekende onselfstandigheid – sal daar oor 30 jaar weinig rede wees, wat tans nog die geval is, om van ’n Afrikanervolk te praat. As ek moet kies – en dit skyn vir my of ons volk meer en meer voor die keuse te staan kom – tussen die besit van politieke mag aan die een kant, en aan die ander kant die behoud van ’n eie nasionaliteit, berustend op ’n eie volksroeping en ’n eie geskiedenis wat aan ons kant nie gebore is uit rassehaat of die versugting om ’n ander volk te oorheers nie, maar wat die beliggaming is van ’n hoër beginsel – ’n geskiedenis wat daarom ook nie onder soete konsiliasie gepraat begrawe mag word nie; as ek voor die keuse geplaas word, dan kies ek vir my part nog altyd die laaste – die nasionaliteit sonder die politieke oorhand.[80]

      Vir Malan moes mag sonder enige toegewings verkry word, of andersins hoegenaamd nie. Terselfdertyd was hy daarvan oortuig dat Afrikaners sou uitsterf as gevolg van die Britte se kulturele oorheersing. Afrikaners moes op die een of ander manier hul nasionaliteit handhaaf. Wat hulle nodig gehad het, was manne soos die Bybelse Elia – soos deur Valeton uitgebeeld. Dié geïdealiseerde beeld het Malan se rolmodel geword. Hy het uiteindelik geweet wat sy roeping was: Hy wou sy lewe wy aan die bewaring van die Afrikanervolk. Hy het sy aspirasies met ’n getroue vriend gedeel:

      Ons volk, nieteenstaande die hoë lof van die nie-Engelse wêreld, is wesenlik arm aan manne van beginsel. Ons het vele maaiers wat maar al te gereed staan om die vrugte te pluk en die eer weg te dra. Tog is daar weinig saaiers, wat weet dat hulle nie sal maai nie, maar nogtans saai asof hulle sou maai. Elkeen gryp na wat voor sy oë is, strek sy hand uit na wat naby lê, jaag na dit wat hy self sal kan sien en geniet. Weinig is tevrede om ongesiens en onbekend, heg en deeglik, die fondamente te lê vir ’n gebou waarvan hulle nie die voltooiing sal aanskou nie, om te lewe vir ’n gedagte, te sterf vir ’n ideaal, waarvan hulle op die verwesenliking kan voorberei, dog dit self nie sien nie.

      Ek het my voorgeneem om met my swakke kragte te gaan werk vir die Afrikanervolk en nie ’n duimbreedte van die weg te wyk nie. Om dit aan die volk duidelik te maak dat God ook in sy geskiedenis Koning is, en dat Hy as sodanig in die volkslewe erken moet word, is net soveel ’n uitbreiding van God se koninkryk as om die Evangelie aan die heidene te verkondig. Tog het daar in die laaste tyd vir my niks duideliker geword as dat die man wat daarvoor wil werk dat die Afrikanervolk homself op sy eie grondslag ontwikkel, dat hy ’n eie volk sal wees met sy eie geskiedenis, taal, karakter en ideale, wat op sy eie wyse God se Koninkryk in homself sal verwesenlik, dat dié man heftige teenstand sal kry, en nie die minste van sy eie volk nie. Hy sal aangesien word as ’n ekstremis, ’n dweper, ’n kleinsielige.[81]

      Malan wou soos Elia wees: ’n man van beginsel, wat nie geïnteresseerd was in tydelike belonings nie, maar slegs in die ewige, selfs al sou hy die vrug van sy arbeid nie in sy eie leeftyd smaak nie, en selfs al sou dit beteken dat hy as ekstremis bestempel word. Hy sou nie kon raai hoe profeties sy woorde was nie. Jare later, toe hy geworstel het met ’n keuse tussen die kerk en die politiek, het Valeton se Agab en Elia weer by hom gespook.

      Malan se bewondering vir Elia het by sy geaardheid gepas. Al het hy duidelike leierseienskappe gehad, was hy altyd stil, ernstig en effens eenkant. Toe al die Afrikanerstudente op ’n keer in Utrecht bymekaar was, en, soos studente maar maak, hul professors se deugde bespreek het, het Malan stilgebly terwyl sy vriende meegevoer geraak het oor hul geleerde meesters se briljantheid. Hy het gewag tot hulle min of meer die hoogtepunt van hul bewondering bereik het voordat hy kommentaar gelewer het: ’n Goeie professor is eenvoudig ’n goeie student. As hy nie self ’n goeie student is nie, kan hy ook nie ’n goeie professor wees nie. Sy woorde het nugterheid gebring, waarna die bespreking stoom verloor het.[82]

      Malan se professors het hom egter ook maar senuweeagtig gemaak wanneer eksamentyd aangebreek het. Aan Nettie het hy geskryf: “Vir Oubaas Valeton is ek nie bang nie – hy is ’n te jolly ou om die moeilikste dinge vir my te bêre. Vir Lamers ook nie te erg nie. Maar vir Van Veen en veral vir Baljon met sy kaal kop sidder ek.”[83]

      As Valeton se loseerder het Malan goed geweet presies hoe “jolly” hy was. Malan het Valeton aan sy suster beskryf as “baie gesellig en kinderlik, en stel net soveel belang in die vraag van hoeveel eiers sy hoenders gelê het as in die vraag of die boek Jesaja deur één of deur twee profete geskryf is”.[84]

      Malan se belangrikste teologiese vorming het in Valeton se sitkamer plaasgevind. Hier het die twee hul “gebruiklike drie koppies tee” gedrink en gesels.[85] Malan het Valeton as die universiteit se knapste teoloog beskou[86] en het sy menings oor Etiese teologie en Hoër Kritiek opgeslurp.

      Valeton se benadering tot die teologie het gewentel om sy begrip van openbaring. Alle kennis van God is op openbaring gegrond, hetsy deur die “algemene openbaring”, wat deur die natuur en die geskiedenis geopenbaar word, of deur die “besondere openbaring”, wat in Israel se geskiedenis en die figuur van Jesus Christus manifesteer. In daardie opsig is die Bybel ’n wyse waarop God Hom openbaar. Valeton het die gedagte dat die Christelike geloof van kerklike dogma of die historiese akkuraatheid van die Bybel afhanklik is, verwerp. Geloof is op die individu se persoonlike ervaring daarvan gegrond en nie op akademiese argumente nie. Dié persoonlike ervaring is van God afkomstig en kan daarom nie van Hom verwyderd wees nie. Daarom het Valeton ook geglo teologiese kennis is slegs vir gelowiges toeganklik.[87]

      Aangesien sy eie geloof in die ervaring van God gewortel was, kon Valeton die bevindinge van die histories-kritiese metode, wat in dié tyd omstredenheid in teologiese kringe veroorsaak het, aanvaar sonder dat dit die grondslag van sy geloof bedreig het. Hoewel dit nie die fokus van sy navorsing was nie, het hy dit as ’n metode gebruik om God se openbaring in die geskiedenis van Israel te bestudeer.[88]

      Die histories-kritiese metode, wat ook Hoër Kritiek genoem is, het die Bybel nie as ’n bron van bonatuurlike openbaring benader nie, maar as ’n dokument wat binne ’n bepaalde konteks geskep is en daarom ook kritiese studie regverdig. Dit het beteken die studie van die argeologie, linguistiek, mitologie en soortgelyke vakgebiede het belangrike hulpmiddels vir die bestudering van Antieke Israel se godsdiens gebied.[89]

      Dié sienswyse het Valeton met Abraham Kuyper laat bots. Kuyper was Nederland se voorste verteenwoordiger van die Gereformeerde teologie (ook bekend as die Neo-Calvinisme) en hy het Hoër Kritiek verwerp. Hy het die Bybel se historiese akkuraatheid onkrities aanvaar – alles in die Bybel is waar en akkuraat gewoon “omdat dit daarin staan”.[90] Dit was sy verergde verweer teen Valeton en ander se vrae oor die meer problematiese aspekte van Bybelse interpretasie. As gevolg van Valeton se prominensie as teoloog en sy rol in die formulering van Etiese teologie het hy ’n teiken vir Kuyper se aanvalle in die pers geword. Dié aanvalle was deel van Kuyper se breër veldtog teen alle gevestigde teoloë omdat hy die Vrye Universiteit van Amsterdam aan die oprig was en die polemiek wou gebruik om voornemende


Скачать книгу